’n Lewenstyl van eenvoud
In die tipiese Westerse wêreld waarin die meeste van ons lewe, besef ’n mens nie aldag hoe jy beïnvloed en gebombardeer word deur die media en dit wat elke dag rondom jou aan die gang is nie. Dit is asof ons afgestomp raak en soos skape agter die modegier van die dag aanstap.
Daarom is dit vir my half-ontnugterend om saam met ons goeie gelowige vriende - wat al vir 5 jaar in Saudi Arabië permanent bly - hier in Suid-Afrika in ’n tipiese moderne winkelsentrum rond te stap en te luister na hulle reaksie. Soos wanneer hulle half-oorbluf word deur al die luuksheid en pryse van alles en in die besonder die kleredrag van jan en sannie alleman in die gange.
Kom ek haal vir jou twee Skrifgedeeltes aan in die verband wat ’n ’n tipiese Westerse volgeling van Jesus skud tot in jou fondasie. Luister na wat in 1 Pet. 4:1 tot 4 staan: “Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het: vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God.
In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg-en drinkpartye en afskuwelike afgodery…”
Jakobus 4:1 tot 8 voeg hierby: “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.
Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?
Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: ‘God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.’
Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.
Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”
God se Gees maak ons daarop attent dat dit ’n doelbewuste keuse is wat ’n mens moet maak om jou “aan God” te onderwerp!
In praktyk beteken dit ’n keuse om jouself en alles wat jy het aan die voete van Jesus Christus as die Koning te gaan “onderwerp”. Van daardie oomblik kan jy nie sommer net koop omdat almal koop nie, want jou geld is nie meer “jou geld” nie. As volgeling van Jesus is jy net ’n bankbestuurder en rentmeester van Jesus Christus, die Koning, “se geld en goed”. Dit is dan net logies dat jy eers Hom sal vra voordat jy sommer koop of geld uitgee. Alles is immers nou Syne.
Dit is dan wat Jesus ons begin leer waarsonder ons met gemak kan klaarkom en watter luukshede ons terwille van ons sieleheil en die welwese van ander maar kan verkoop en die geld beter kan gebruik.
Dit is ook dan wat die Gees van God ons leer om gedissiplineerd te eet en te drink en te lewe, terwille van ons eie gesondheid en terwille van ons getuienis teenoor ’n wêreld vol nood rondom ons.
As volgelinge van Jesus moet ons mekaar herinner daaraan dat Jesus weer kom. En dat ons almal net vreemdelinge hier is, wat net vir ’n tyd op reis is op planeet aarde. Daarom moet ons “lig reis”! Ons kan immers niks verder saamvat in die “ander lewe” nie!
Sulke tye begin God deur Sy Gees ons leer wat doodgewoon “luste” van ons ou menslike vlees is en wat werklik begeertes is wat God in ons opgewek het.
In hierdie proses gaan ons gekonfronteer word deur God se Gees met die vraag oor wanneer genoeg genoeg is.
En gaan Hy ons leer om vrede te maak met sekere dinge. Ander tye gaan Hy ons wys om op te staan en gelowig ons deel te doen om die omstandighede en situasie te verander, omdat God se hart is om vir ons meer en beter as dit.
| Next > |
|---|
Home
Oor ons bediening
Articles and Stories
Johann's Blog
Discipleship
Interesting Facts
Photo articles
View Index
Inspirational
Devotionals
Inspirational Images
SMS Wording
Humor
Humor and Cartoons
Multimedia
Books
Contact Us















