Krieketheld wil kuier-kuier geld vir teologiestudie insamel
PRETORIA. - Kuier-kuier wil die krieketheld Fanie de Villiers en ander Christenmans help om die wêreld 'n beter plek te maak.
Vir dié doel het De Villiers Maandagaand by sy huis in Centurion die Salt Society van stapel gestuur.
Salt is die afkorting vir die Engels South African Leadership Training, maar die naam wys ook die lede wil sout vir die aarde wees.
De Villiers se gedagte is 'n vereniging waarvan die lede so agt tot 11 keer per jaar saamkuier met 'n bier en 'n braaiery.
Hulle wil borge daarvoor kry sodat die aand lede niks kos nie.
Dat die klem taamlik op sport sal val, was op die bekendstellingsaand reeds duidelik.
De Villiers het byvoorbeeld met die gewese Bloubul-skrumskakel Tommie du Plessis en die slot Johan Ackerman gekorswel oor wat hulle van Luke Watson dink.
Ackerman sê Springbokke teken 'n erekode dat hulle nie hul baadjies in oneer sal bring nie. As Watson so sterk voel, moes hy nooit die baadjie gedra het nie.
Op 'n vraag van De Villiers of die Bloubul-voorspelers van destyds vir Watson in 'n losskrum sou bykom, het Du Plessis gesê hy dink nie oom Buurman van Zyl, die Bulle se destydse afrigter, sou vir Watson speelkans gegee het nie.
Saam met die groot kuier vra die vereniging sy lede om 'n aftrekorder te teken vir 'n maandelikse bedrag wat die lid kan bekostig.
Die geld wat só ingesamel word, gaan vir die opleiding van geestelike leiers by die Aucklandparkse Teologiese Seminarium (ATS).
Die gedagte is dat geestelike leierskap die een ding is wat Afrika nou broodnodig het.
Prof. Jan Hattingh van die ATS het gesê in Afrika steek baie mense hul hande in tente op om 'n persoonlike oorgawe aan God te doen, maar min word gedoen om al dié mense te help om 'n Christelike lewenstyl aan te leer.
Sy gedagte is dat geestelike leiers nie net teologie nie, maar ook goed soos entrepreneurskap moet leer sodat hulle hul gemeentes kan help om bo hul omstandighede uit te styg.
De Villiers het gesê daar is baie beurse in die land beskikbaar, maar nie vir studie in die teologie nie.
Deur dié leemte te help vul, wil hulle help om weer waardes in die land te vestig.
Neels Jackson - Rapport
| < Prev | Next > |
|---|
Home
Oor ons bediening
Articles and Stories
Johann's Blog
Discipleship
Interesting Facts
Photo articles
View Index
Inspirational
Devotionals
Inspirational Images
SMS Wording
Humor
Humor and Cartoons
Multimedia
Books
Contact Us

















