Kankerlyertjie het baie mense se lewens geraak

Dít was die woorde van klein Kata
Byleveld (5) aan ds. Schalk Kotzé toe hy Saterdagmiddag, die dag voor haar
dood, vir haar ’n gebed in die huis van haar ouers, mnr. Mannetjies en mev.
Lizelle Byleveld, gedoen het.
“Sy het op die bank gelê, onder
sterk morfienverdowing, en ek het gesê ek sal vir Jesus vra om haar hand vas te
hou,” het Kotzé gister ná haar begrafnis om 10:00 uit die NG Moedergemeente
gesê.
“Sy het die laaste paar dae baie van Jesus en die hemel gepraat en gesê sy wil huis toe gaan.”
Kata, wat op 2 Desember verjaar
het, is in Mei 2007 met neuroblastoma (kanker wat die senustelsel, beenmurg en
limfkliere aantas) gediagnoseer. Sy is in die Rooi Kruis-kinderhospitaal
behandel voordat sy in November ’n beenmurgoorplanting ondergaan het.
“Sy het so goed gelyk ná die
operasie. Dis ’n skok dat sy weg is,” het haar pa vroeër vandeesweek gesê.
Sy het tien dae voor haar dood
weer begin kla van beenpyn en spesialiste het besef hulle het nie raad nie. Sy
was drie dae onder morfienverdowing voordat sy Sondag om 11:00 dood is.
“Sy het ’n besondere begrip van
God en Jesus gehad vir so ’n klein kindjie,” het Kotzé vir die meer as 300
begrafnisgangers gesê.
“Ek onthou die dag toe ek by hulle
uit die Kinderbybel gelees het en sy op my skoot gesit het. Sy het vir my baie
meer verduidelik van die storietjie as wat ek self verstaan het. Sy het die
Here beter geken as baie mense.”
Kotzé het uit Psalm 22 voorgelees
waarin koning Dawid, wie se kind ook gesterf het, gevra het: “My God, my God,
waarom het U my verlaat?” net soos Christus op Goeie Vrydag vir God dieselfde vraag
gevra het.
“Ons vra ook die vraag: Waarom so
’n jong kind? Maar God gebruik slegte dinge om goeie goed te laat gebeur.
Hoeveel van ons se lewens het Kata nie aangeraak nie? Kata, dankie daarvoor.
“Môre sal ons in ons koerant lees
Kata is weggeneem, maar ek is seker in die hemelkoerant sal staan ‘Kata het
tuisgekom’.”
Terwyl Kata se twee
gunsteling-liedjies van Steve Hofmeyr gespeel het, is foto’s van die dogtertjie
op twee skerms voor in die kerk geprojekteer.
Op een van die foto’s is Kata
geklee in ’n ligblou engeltjierok met vlerkies en ’n blou bandjie met rosies om
haar kaal koppie.
By die graf het haar twee oupas,
mnre. Piet Badenhorst en Attie Wessels, en haar twee ooms, mnre. Bennie
Byleveld en Niekie Kennedy, die pienk-en-wit kissie na die graf gedra. Sy word
ook oorleef deur ’n sussie, Janka (1).
TISHA STEYN – Die Burger (www.dieburger.com)
| < Prev | Next > |
|---|
Home
Oor ons bediening
Articles and Stories
Johann's Blog
Discipleship
Interesting Facts
Photo articles
View Index
Inspirational
Devotionals
Inspirational Images
SMS Wording
Humor
Humor and Cartoons
Multimedia
Books
Contact Us
















