Seun gou beter 'danksy gebede'
JOHANNESBURG. - Die 10-jarige seun van Kestell wat Dinsdag in Potchefstroom ernstig in 'n rugbywedstryd beseer is, se toestand het "te danke aan gebede" drasties verbeter. Die familie van Willem Jacobs van 'n plaas in Aberfeldy, Kestell, en leerling aan die Laerskool Truida Kestell op Bethlehem, meen sy spoedige verbetering is "te danke aan ketting-gebede oor die land heen".
Willem het aan 'n laerskole-rugbytoernooi by die Laerskool President Pretorius deelgeneem, waar hy in 'n wedstryd in 'n lynstaan geval en beseer is. Hy het opgestaan en aangedring om aan te hou speel. Hy het kort hierna inmekaargesak.
Willem word behandel vir bloeding op die brein. Hy herken sy familie, maar praat nog nie. Hy is steeds in die waakeenheid en sy toestand bly ernstig.
Mnr. Willem Jacobs, Willem se pa, het gister uit die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton aan die Oos-Rand gesê sy seun het "in 'n rekordtyd verbeter".
"Dit is absoluut te danke aan ketting-gebede oor die land heen. Ek en Lucé (Willem se ma) kan nie genoeg dankie sê vir die gebede en die hospitaal nie."
Willem se ouers, broer Chris (25) en suster Christine (27) en ander familielede slaap by die hospitaal om heeltyd by hom te wees.
Mnr. Gathlyn Watkins, woordvoerder vir die hospitaal, het bevestig Willem, wat erge bloeding op die brein opgedoen het, se toestand het "wonderbaarlik vinnig verbeter". "Dit neem gewoonlik baie langer, maar hy is reeds van die ventilator afgehaal," het Watkins gesê.
Willem het in die arms van sy o.11-A-rugbyspan-afrigter, mnr. Quinton Nel, inmekaargesak.
"Willem het in 'n lynstaan gespring. Die opposisie het die ondersteuning onder hom uitgehaal en hy het geval," het Nel verduidelik.
Mediese personeel het na Willem omgesien, maar hy het gesê hy wil verder speel. Kort hierna het Willem na Nel geloop en gesê hy "voel nie lekker nie" en toe inmekaargesak. Hy is deur ER24-nooddienste na Alberton gehaas.
Willem se familie wil hê sy maatjies moet weet dat hy "in omstandighede goed doen".
Dr. Hennie Rheeders, skoolhoof van Truida Kestell, het gesê hulle vertrou die Here sal Willem volkome laat herstel en die skool bid vir hom.
Intussen het Willem se tannie, me. Christa von Gericke, 'n Facebook-groep, Vasbyt Willem Jacobs, gestig om almal op die hoogte te hou en geld in te samel.
Gloria Edwards - Volksblad
| < Prev | Next > |
|---|
Home
Oor ons bediening
Articles and Stories
Johann's Blog
Discipleship
Interesting Facts
Photo articles
View Index
Inspirational
Devotionals
Inspirational Images
SMS Wording
Humor
Humor and Cartoons
Multimedia
Books
Contact Us
















