Die Here het 'n lewe kom red

Dit was 'n Dinsdagaand 19:00. Die ingenieurstudent, Sias het net voor sy lessenaar ingeskryf om te begin studeer vir 'n toets. Skielik het 'n frons op sy gesig verskyn. Dit was asof die Here vir hom op sy hart kom lê het om kafee toe te gaan en 'n brood te gaan koop. Hy het sopas klaar geëet en dit het geensins sin gemaak nie. Tog het hy besluit om gehoorsaam te wees. Met sy beursie in sy hand het hy in sy kar geklim en na die winkel gery om 'n brood te gaan koop. 'n Vreemde opgewondenheid het in sy hart kom lê. Wat op aarde sou die Here tog met hierdie brood wou doen?
Nadat Sias die brood gekoop het, het hy vir 'n rukkie in sy kar voor die winkel gesit en wag. Dalk wou die Here 'n arm persoon oor sy pad stuur sodat hy die brood vir hom of haar kan gee? Daar was egter niks nie. Na 'n paar minute, het hy maar weer sy kar aangeskakel en begin om terug na die koshuis te ry - stadig. Dalk wou die Here vir hom iemand langs die pad wys vir wie hy die brood moet gee. Weer was daar niemand nie. Dit is toe Sias voor die koshuis parkeer dat hy begin wonder het of hy homself dan verbeel het. Dalk het die Here nie met hom gepraat nie?
Sias was amper heel bo teen die trappe oppad na sy kamer toe een van die eerstejaar studente van voor af by hom verbystap. Dit is hy. Die Heilige Gees se fluisterstem was duidelik. "Maar", wou Sias protesteer.
"Wat as..."
Binne sy hart het hy egter instinktief geweet wat hy moes doen.
"Uh, skuus tog," het hy nou na die jonger man geroep wat reeds besig was om by trappe af te draf.
"Ja?" Daar was 'n vraag op die jong student se gesig wat nou na hom gedraai het.
"Ek weet dit mag dalk vreemd wees, maar... uh... hier is vir jou ,n brood."
Die vraag wat oomblikke gelede op die jong student se gesig was, het nou na skok verander terwyl trane stadig oor sy wange begin vloei.
Daardie oggend het die jong student by God gepleit om aan hom 'n teken te gee dat Hy werklik bestaan. Die student was moedeloos en depressief oor al die uitdagings in sy lewe. Selfmoord was sy volgende stap. Dit was immers waarheen hy op pad was toe hy teen die trappe afgestap het.
Hy het daarom besluit om daardie oggend vir die mees onwaarskynlike teken te vra. As God werklik bestaan en vir hom omgee, moet hy asseblief vir hom iemand stuur wat vir hom 'n brood sou bring. Daardie aand, 19:15 het die student sy brood gekry. Die Here het van hom geweet. Die Here het 'n lewe kom red.
Benescke Botha
Ingestuur deur Hester du Raan (Van die oorspronklike teks is aangepas)
| < Prev | Next > |
|---|
Home
Oor ons bediening
Articles and Stories
Johann's Blog
Discipleship
Interesting Facts
Photo articles
View Index
Inspirational
Devotionals
Inspirational Images
SMS Wording
Humor
Humor and Cartoons
Multimedia
Books
Contact Us
















